Thursday 23 January 2014

Tevergeefs om die Here te dien?

Dierbare kind van God,

In tye van beproewing raak ons baiekeer moedeloos en verloor ons hoop, maar is juis dan dat ons baie versigtig moet wees wat ons voor die aangesig van die Here met ons mond uiter. Sy liefde, genade en geduld met ons is so wonderlik, en Hy weet wat Hy doen wanneer Hy ongemaklike omstandighede oor ons lewens toelaat om Sy doel daarmee te bereik. Laat ons dan maar net onsself voor Hom verneder en op Hom alleen vertrou. Hy sal op die regte tyd vir ons deurbreek. Baie liefde en begrip vir die dinge wat baie van ons beleef. Liefde ~ Oom Jacques en Tannie Mary.

Maleagi 3:13 - 14 ”Vermetel is julle woorde teen My, sê die Here. Maar julle vra: Wat het ons onder mekaar teen U gespreek? Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die Here van die leërskare te wandel?

• Moet nooit sê:
”Dit is tevergeefs om die Here te dien.
Dit maak ’n mens geestelik blind,
soveel so, dat ons nie
die goedheid van die Here raak kan sien ~
Wat het ons in alle geval verdien?

Prediker 5:2 ”Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou ’n woord uitbring voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.”

• God se lankmoedigheid
het tot dusver verhoed baie skade,
en dit is en was, suiwer genade.

2 Petrus 3:15 ”En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het...”

• Moet tog nie die Here beproef
met onsinnige woorde,
wat die Heilige Gees bedroef ~
So beland ons maklik in ’n
sondige ongelowige groef.

Eksodus 20:20 ”Toe antwoord Moses die volk: Wees nie bevrees nie, want God het gekom om julle te beproef en dat sy vrees voor julle oë mag wees, SODAT JULLE NIE SONDIG NIE.”

• Moenie God se geduld ook op die proef stel.
Hy is ons kosbare vriend,
maar beslis niemand se ”Pêl”.

• Ons moet vir Hom hê ontsag,
want Hy is gevul met majesteit en krag ~
Moet nooit vir die Here vir dinge
wat Hy oor ons lewens toelaat, verag.

Hebreërs 12:9 ”Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?”

• Ons ontvang baiekeer ons verdiende loon,
omdat ons weier om ons lewens
te hou, rein en skoon.

• Moenie die Here uittart,
want Hy kan in ’n oomblik se tyd
oor ons lewens toelaat,
ongekende smart.

Psalms 141:3 ”Here, stel ’n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.”

• Sluit tog vriendskap met Hom,
soos om vir Hom te sê”
”Here, ek verstaan nou nie mooi”,
waarom die vyand van my siel,
my so ongenadiglik kasty en looi!

Daniël 12:8 ”En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge?”

• Vra liewer:
”Hemelse Vader,
trek my daagliks nader,
na U Seun Jesus se sy,
sodat ek oorwinning oor my
omstandighede kan kry ~
dan word ek waarlik vry.”

1 Petrus 1:7 ”Sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus...”

Facebook: Jacques van der Hoven.

No comments:

Post a Comment