Tuesday 7 January 2014

Ken ons werklik altyd God se wil?

Dierbare kind van God,

Hoe dikwels het ek nie in my eie lewe ontdek dat, alhoewel ek duidelik geweet het dat ek in God se volmaakte wil vir my lewe beweeg het, daar nogtans baie geleenthede, binne daardie raamwerk, tye was waar die Here spesifiek vir my beveel het om iets te doen, en dan het ek net mooi die teenoorgestelde gaan doen. Ek praat nie van moedswillig sondig nie, maar ons natuurlike denke staan baiekeer in die pad om gehoorsaam te wees aan die Stem van Sy Woord. Maar dank die Here, Hy is altyd daar om weer vir ons te sê: ”Hier is die weg, wandel daarop!” Dit is alles deel van ons leerproses en ons moet net eerlik genoeg wees om te erken wanneer ons fouteer. Seën en liefde vir julle almal. Oom Jacques en Tannie Mary.

Jeremia 7:23 ”Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan.”

• God se perfekte wil,
hou ons aan die binnekant rustig en stil,
Dit laat ons nie hardloop
agter ons eie gedagtes, begeertes of gril.

• Maar selfs in Sy volmaakte wil
raak ons dikwels die klits kwyt,
dan wil ons ander mense daarvoor verwyt ~
daarna kry ons daaroor spyt.

Efesiërs 5:17 ”Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.”

• God se ware leiding,
laat ons nie hardloop na ons eie weiding,
wat so dikwels tussen ons en Hom,
bring die verwydering.

Spreuke 1:5 ”Laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry...”

• Ons verkeer baiekeer onder die indruk;
ons beweeg reg,
maar dan is dit inderdaad van Jesus af weg ~
Dit is dan wanneer dit met wat ons doen,
gaan sleg.

• Op ons beste is ons maar baiekeer deurmekaar,
maar dan is ons te trots om te sê: 
”Dit is waar!”
Ons sê dan so maklik:
”Ek is nie blind,
en nog minder ’n kind.”

Jesaja 42:19 ”Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die Here?”

Psalms 78:1 ”My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond.”

• Ai mense, ons is op ons beste, tog so subtiel,
terwyl ons baiekeer ons eie siel,
en God se werk, verniel.
Daarvan kan ons almal getuig,
met niks om oor te juig.

• Ons beweeg baiekeer binne die volmaakte wil van die Here,
in ’n verkeerde rigting,
wat dikwels lei tot andere se nadeel,
en versugting.

• O, kyk maar net na die foute
wat ons somtyds maak,
wat getuig van swak oordeel en smaak.
Ons sal dan gou sien waaraan
die Vinger van die Here wil raak,
sonder om ons af te kraak.

Jesaja 42:20 ”Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie.”

• Laat ons nooit vergeet
dat ons is feilbare mens,
wat nie altyd handel en wandel
na God se wens.

• Dit sal ons hou nederig,
afhanklik van God, en ook opreg,
op ons lewensweg.

Jesaja 30:20 - 21 ”Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie - maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.

Facebook: Jacques van der Hoven.

No comments:

Post a Comment