Friday 10 January 2014

Wat vir ’n woord is dit?

Dierbare kind van God,

Jesus het by geleentheid gesê: Lukas 10:19 ”Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” En nou die Teksgedeelte wat betrekking het tot die opskrif hierbo: 

Lukas 4:36 - 37 ”Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: WAT VIR ‘N WOORD IS DIT, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit! En daar het ‘n gerug aangaande Hom uitgegaan na elke plek van die omgewing.” >> Die gediggie gaan oor opskrif gedeelte hierbo soos die Here my vanmore geïnspireer het om te skrywe. Baie liefde en seën ~ Oom Jacques en Tannie Mary.

• Wat vir ’n woord is dit,
dat mense soveel seën 
en uitkomste daaruit put?

Lukas 4:35 ”En Jesus het hom (die duiwel) bestraf en gesê: Bly stil, en gaan uit hom uit! En die duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.”

• Waar Jesus teenwoordig is,
moet die duiwel kry sy ry.
Hy kry nie eers ’n kans
om daaroor te stry.
In moeilike omstandighede sal Jesus
ons ook op die regte tyd,
vir elkeen wat dit nodig het, bevry.

Lukas 4:18 – 19 ”Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.”

• Net so kosbaar is ook dieselfde woord,
gespreek deur opregte mense,
wat waarlik aan God behoort.
Deur God gesalf,
haal hulle uit die put van ellende,
die spreekwoordelike kalf!

• O, in hierdie tyd soek mense
waarlik woorde wat hulle kan bevry,
en nie woorde waaroor ons kan stry.
Woorde van krag en daad,
waarby hulle waarlik kan baat.

Johannes 14:12 ”Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo - die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”

• Woorde deur God se Gees geïnspireer,
maak moedelose mense weer heel, en nie seer,
sodat God se kinders
hulle blydskap met mekaar kan deel.

• God gebruik eenvoudige gehoorsame mense,
om te vervul Sy geseënde wense ~
Hulle spreek net ’n woord,
en kosbare siele word gered van die dood.

Handelinge 3:6 ”Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!”

• God gee ons die mag
om lewensveranderende woorde te spreek,
al is ons, wat mense betref, ook ’n leek,
maar wat bande wat ongelukkiges bind, te verbreek.

Handelinge 11:13 - 14 ”En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word; HY SAL WOORDE TOT JOU SPREEK WAARDEUR JY EN JOU HELE HUIS GERED SAL WORD.”

• Kom ons volg Jesus se voorbeeld na, 
want dit sal sekerlik nie die behoeftige pla.
Dit lig mense uit hulle wanhoop,
en die duiwel word van sy krag gestroop.

Matteus 8:8 ”En die hoofman oor honderd antwoord en sê: Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie; MAAR SPREEK NET ’N WOORD, en my kneg sal gesond word.”

• Ware gesalfdes van die Here,
is wat mense in ons dag soek;
nie diegene wat oor andere se dade hou boek.
Deur hulle ware liefde en deernis,
word mense genees.

Facebook: Jacques van der Hoven.

No comments:

Post a Comment