Tuesday 14 January 2014

Glo? ~ Eers met oë sien.

Dierbare kind van God,


Ons is op ons beste maar in baie opsigte onversetlik in ons handel en wandel. So dink ons dat ons self die lewe kan hanteer maar dikwels tot ons eie nadeel en frustrasie. Ons eie denke krenk dikwels die eer van God en staan vierkantig tussen ons die Here, ja ons ongeloof. As ons tog maar net God se Woord ken en daarop staan sal dit baie beter met ons gaan. Kom ons vra die Here om liewer met ons geestesoog te sien as met die fisiese een. Mag die Here ons daartoe help. Liefde ~ Oom Jacques en Tannie Mary.

Johannes 20:24 – 29 ”Maar hy (Thomas) het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie...En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.”

• Ons as mens wil eers sien,
en dan sal ons glo, miskien.

• O, die traagheid van ons hart,
wat veroorsaak so baie ellende en smart.

Lukas 24:25 ”En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het!”

• Hierdie tendens veroorsaak dat ons
met mekaar stry em dikwels baklei,
terwyl ons vir ongeloof moet sê:
”Kry jou ry!”

Matteus 21:22 ”En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”

• Hoe bedroef ons tog nie die Heilige Gees,
wie tog alles vir ons wil wees,
om liggaam, siel en gees te genees.

Efesiërs 4:30 ”En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.”

• Ons ongeloof en vertwyfeling,
werp tussen ons en die Here
’n skeidsmuur,
wat aan ons skuur soos
growwe sandpapier.

Matteus 13:58 ”En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.”

• Ons vel die brand
want ons boer aan ongeloof se kant,
en doen dinge volgens op ons eie trant.

• So doen ons onsself skade aan,
wat ons plaas in ’n sondige baan;
vol van eiewaan.

• Vertrou ons dan nie die Here meer,
wat ons van dwase optrede wil keer?
Wanneer sal ons tog ons
lewenslesse deeglik leer?

Hebreërs 3:18 - 19 ”En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.” (Die beloofde land)

• Ongeloof veroorsaak dat ons,
ons eie ding wil doen.
Uit ongelukkige huwelike,
wil baie net eenvoudig uitklim ~
Dan dink hulle hul is baie slim.

Psalms 27:14 ”Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!”

• So maak baie, selfs onder God se kinders,
van hulle lewens een groot gemors,
wat hulle aan die einde baie geld
en teëspoed gaan kos.

Spreuke 3:7 ”Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die Here, en wyk af van die kwaad...”

• Kom ons vertrou liewer die Here,
en laat ons ophou om te gaan tekere.
Laat Hy die stryd vir ons stry,
want so sal ons baie ongelukkigheid vermy,
en geseënde oorwinnings verkry.

Psalms 32:9 ”Wees nie soos ’n perd, soos ’n muilesel wat geen verstand het nie, wat ’n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.”

Facebook: Jacques van der Hoven.

No comments:

Post a Comment